Daniel Johannes Stephanus (Danie) Theron: Dapper Boerekommandant, legendariese Boere-verkenner
Danie Theron is op 9 Mei 1872 in die pragtige ou Kaaps-Hollandse herehuis te Kerkstraat 21, Tulbagh, gebore as seun van Willem Wouter Theron en sy tweede vrou Anna Helena Margaretha Krige (weduwee JL Pretorius) dogter van d6 Johannes Stephanus Krige en sy vrou Louisa Jacoba Joubert.
Danie Theron was een van die grootste figure wat nog aan die Afrikaanse volk gegun is. Sy heldedade sal tot in die verre toekoms ‘n besieling bly. Hy was gespierd, intelligent, vasberade, rusteloos, soms selfs onbesonne, kort van humeur, besiel met ‘n vurige vaderlandsliefde en geweldige fisieke moed en doelgerigtheid. Sy manskappe het hom aanbid.
Twee voorvalle getuig van Danie Theron se kort humeur en opvlieëndheid: op 22 April 1899 het Moneypenny, die liberale redakteur van THE STAR, ‘n vernederende berig oor die Boerleiers geplaas. Theron het die redakteur versoek om die berig terug te trek en ‘n apologie te plaas, maar Moneypenny het geweier, waarop Theron hom ‘n vuishou op die regteroog gegee het wat sy bril beskadig het. Theron is deur die koerantpersoneel verwyder. As na-draai het Theron in die hof verskyn, is skuldig bevind en tot ‘n boete van £20 of twee maande gevangenisstraf veroordeel. ‘n Hoed is gou rondgestuur en £25 is ingesamel, die boete is betaal en £5 is aan ‘n hospitaalfonds geskenk.
Die tweede voorval het op Middelburg, Transvaal, plaasgevind tydens ‘n Sondagerediens. Ds Brink het ‘n skandalige, onpatriotiese politieke preek gelewer, waarop Theron opgestaan en op die preekstoel afgepyl het om die predikant daar af te pluk. Gemeentelede het hom net betyds gekeer. Na die oorlog is ds. Brink van sy leraarsamp onthef.
Danie verwerf in 1890 ‘n onderwyssertifikaat en tree in die distrik Kroonstad tot die onderwys toe. In 1891 verhuis hy na Transvaal en gaan boer in die Soutpansberg, maar staak die boerdery na twee jaar. Hy skryf in as prokureurs-klerk op Pietersburg (Polokwane). Later is hy prokureur op Krugersdorp. Toe die Angloboere-oorlog in 1899 uit-breek, sluit hy by die Boeremagte aan en onderskei hy hom as knap verkenner. Soms, soos in die geval met genl. Piet Cronje by Perdeberg, verrig hy die haas onmoontlike: in ‘n waaghalsige kortdaatstuk kruip hy twee maal deur die patrollie van Britse wagte om genl. CR de Wet se ontsnappingsvoorstel aan die omsingelde Cronje en sy walaer af te lewer. Cronje se krygsraad is egter so gedemoraliseer deur die aanhoudende Britse aanval, dat hul nie die waagmoed het om die plan deur te voer nie. Cronje gee in opdrag van sy krygsraad op 27 Februarie 1900 met 4000 man aan die Britte oor, en dit van alle dae op Majubadag ! Dit was ‘n uiterste gevoelige slag vir die Boeremagte.
Met goedkeuring van die twee Boererepublieke stig Danie Theron in 1900 Theron Verkennerskorps (TVK) wat bestaan het uit 100 lede van verskillende kommando’s en buitelanders uit Frankryk, Duitsland, Ierland en selfs Rusland. Hul tree met groot sukses op in die Vrystaat, waar hy bevorder word tot die rang van kommandant. In lewensgevaar en met groot dapperheid en welslae beweeg hy met rapporte heen en weer tussen die Boerekom-mando’s en vyandelike linies. Hy en sy korps verrig nie net waardevolle verkenningswerk oor Britse troepebewegings nie, maar dien selfs as opleidingskool vir offisiere en red by geleentheid waardevolle kommissariaatwaens deur te voorkom dat dit in Britse hande val. Die sukses en doeltreffendheid van die korps is te danke aan sy uitstekende taktiek, beweeglikheid en streng dissipline.
Op 5 September 1900 is Danie deur ‘n bomskerf noodlottig getref is tydens ‘n geveg met ‘n Britse kolonne in die Tweede Vryheidsoorlog. So betaal Danie Theron, bobaas Boereverkenner, die hoogste prys vir sy land op die jeug-dige ouderdom van 28 jaar, 4 maande. Sy stoflike oorskot is op 6 September 1900 in ‘n kakiekombers saam met drie gesneuwelde Tommies begrawe op die plek waar hy gesterf het. Vir sy korpslede was sy dood ‘n verpletterende slag. Geharde manne het soos kinders gehuil. ‘n Dringende soektog na sy graf deur sy makkers was eers suksesvol in die vierde graf wat oopgemaak is. Hul het geweet dat sy laaste wens was om langs sy oorlede verloofde, Hannie Neeth-ling, in die familiebegraafplaas te Eikenhof begrawe te word. Hy is voorlopig met volle eerbetoon in die familiebe-graafplaas op Elandsfontein begrawe in ‘n doodskis wat spesiaal uit Parys verkry is en gedrapeer is met die Trans-vaalse Vierkleur. MM Pienaar het die plegtigheid waargeneem en uit 2 Sam. 1: 17 – 27, Dawid se klaaglied oor Saul, gelees. Verskeie korpslede het opgetree, o.a. ‘n bebaarde Rus wat in Russies onder die vloei van trane gepraat het. Danie se kameraad, Jack Hindon, het in ‘n treffende verhalende gedig van 14 verse sy manskappe se bewondering uitgebeeld. “Ter gedachtenis aan DanieTheron, gesneuwel op 5 September 1900 op Gatsrand”. Op 9 Mei, Danie se verjaardag, het die Vrystaatse Pres. MT Steyn, wat talle van Danie se rapporte gelees het, gesê: “Als er ooit een naam was die een dankbare nasie in herinnering moet houden, en die tot in die verste toekoms, het nageslacht met liefde voor volk en vaderland zal bezielen, dan is het dié van kommandant Danie Theron. ‘n Naam wat ‘n dankbare nasie in herinnering moet hou.”
Hierdie oproep van Pres. Steyn is gestand gedoen. In die loop van ‘n eeu is hierdie merkwaardige onderwyser, boer, prokureur en baasverkenner op ses waardige maniere gedenk: 1. Sy stoflike oorskot is op 10 Maart 1903 in die familiebegraafplaas te Eikenhof in ‘n graf langs dié van sy verloofde Hannie Neethling ter ruste gelê; 2. ‘n Gedenksuil is op Saterdag, 28 Desember 1907, op sy graf in die Eikenhofbegraafplaas onthul; 3. Die Danie Theron Krygskool in Kimberley (in 1994 gesluit) is na hom vernoem; 4. Die gebruik van Danie Theron se naam deur vele instellings en verenigings as hul eie, ter ere van hom; 5. Tulbagh en aangrensende gemeenskappe het Danie Theron spontaan onthou deur ‘n borsbeeld deur beeldhouer Mitford Barberton reg oor Kerkstraat 21, Tulbagh, sy geboortehuis, op te rig; Die amptelike onhulling op Saterdag, 10 Mei 1960, is deur die toenmalige premier, mnr BJ Vorster, waargeneem. Hierdie borsbeeld is later deur ‘n gewetenlose persoon gesteel; 6. Op 5 September 1960 is ‘n gedenkteken opgerig op die plek waar waar Danie Theron gesneuwel het. Halfpad tussen Potchefstroom en Johannesburg langs die N12 staan hierdie gedenkteken op die koppie in die Gatsrand, as aandenking aan een van Suid-Afrika se dapperste seuns. Die gedenkteken is ‘n 24m hoë betonstruktuur met ‘n simboliese vlam van vryheid uit koper bo-op gemonteer. Die Gatsrand is ‘n heuwelreeks wat 120 km in ‘n noordoostelike rigting vanaf Potchefstroom tot suidwes van Johannes-burg strek. Die naam verwys na die veelvuldige gate en grotte wat deur reënwater in die kalkklip gevorm is.
Toe die Britse soldate op 5 September 1900 op Theronskop in die Gatsrand verbaas aan mekaar gevra het: ”Is this perhaps the ubiquitous Danie Theron ?”, het hulle ‘n lewensgetroue getuigskrif oor hierdie dapper Boerestryder uitgespreek. Ten spyte van bewegingsbeperkings was Danie Theron en sy makkers van dieTVK ‘n lastige, selfs gevreesde teenwoordigheid op die slagveld tussen Boer en Brit.
Daarom is dit te verstane dat Kommandant CR de Wet, weermagshoof van die Vrystaat, as volg oor Danie Theron geskryf het: “Beminnelijke en dapperen manne zoals hij zouden wel in de wereld zijn, maar een man met zo velen deugden in een person verenigd, waar zou ik dien vinden ? Hij was een mijner dapperste en getroudste kommandan-te, een man van wie ik en onbeperkte dunk had.”
Bronnelys:
- Albertyn, CF: Ensiklopedie van die Wêreld
- De Kock, WJ: SABW II
- De Villiers, JW: CR de Wet in die Kaapkolonie
- De Wet, CR: De stryd tusschen Boer en Brit
- Grundlingh, A & Nasson, B: Die Oorlog kom huistoe
- Heese, JA: GISA 4, 13; Joubert, DJ: SESA
- Pakenham, T: Die Boere-oorlog
- Pretrorius, F: 1899- 1902 Die Angloboere-oorlog
- Pretorius, F: Verskroeide Aarde
- Scheepers-Strydom, CJ: Ruitervuur
- Van Bart, M & Scholtz, L: Vir Vryheid en Reg
- Van Zijl, MJN: Tulbagh
- Venter, EA: Ons Geskiedenis Album.
- Hits: 5