Die grootste jagtog (Slagting van wild) in Suid-Afrika
Een van die groot opspraakwekkende gebeurtenisse in Suid-Afrika in 1860, was die besoek van Koningin Victoria van Brittanje se tweede seun, Prins Alfred Ernest Albert, die Hertog van Sakse-Coburg-Gotha en Edinburgh. Hy is met groot fanfare amptelik deur Goewerneur Sir George Grey in Kaapstad ontvang, waar hy op 17 September 1860 die aanvangswerk aan die Kaapse dokke geopen het, ‘n staatsbanket bygewoon het, en op 18 September 1860 die nuwe Museum en Biblioteek geopen het. Sy naam is hier verewig deur plekname soos Port Alfred, Prince Alfred’s Hamlet, Prince Alfred’s Guard in Port Elizabeth (sy lyfwag tydens sy besoek), die Victoria & Alfred Waterfront in Kaapstad en die Alfred County in Natal.
Die Prins, vergesel deur goewerneur sir George Grey, reis 1930 km deur Suid-Afrika. In Bloemfontein ontmoet hy die Sotho-opperhoof, Mosjesj, wat ‘n brief aan hom oorhandig waarin hy versoek om ‘n onderdaan van koningin Victoria te word.
In Bloemfontein organiseer ‘n welgestelde boer, AH Baines, ‘n reuse-jaggeleentheid vir die prins om Suid-Afrika se ongeëwenaarde rykdom aan wild te demonstreer. Sowat ‘n duisend van opperhoof Moroka se Barolongs tree op as aanjaers wat tussen 20 – 30 000 stuks wild (blesbokke, kwaggas, springbokke, volstruise, wildebeeste, blesbokke, ens.) na die jagters aanjaag, wat meestal voorlaaiers gebruik het, waarmee hul sowat 5000 stuks wild geskiet het. Die prins het ‘n ‘moderne’ Wesley Richards gebruik.
Om twee-uur die middag, nadat die gasvrye mnr Bain nie net die prins en goewerneur en hul gevolg nie, maar ook die groot aantal besoekers onthaal het, het die geskree van die Barolong aanjaers en die digte stofwolke aangedui dat die wild in hul duisende na die plaas en die jagters op pad is. Die prins, goewerneur en hul gevolg het die hele skouspel van die duisende stuks wild vanaf die solder van ‘n buitegebou aanskou. Die perde is gou opgesaal en die jag op die groot massa bewegende trop wild het begin. Honderde van hierdie diere is doodgeskiet, maar baie is gekwes. Gedurende die uur wat die jag geduur het, het die Prins alleen 25 stuks wild doodgeskiet. Die Barolongs, hoog in hul noppies oor die oorvloed van vleis, het vertel dat sowat duisend bokke van verskeie soorte geskiet is.
Nadat die jag amptelik verby was, het die Barolongs die slagting voortgesit. Volgens berekening is tussen 20 000 tot 30 000 bokke deur die Barolongs aangeja en is sowat 5 000 bokke doodgeskiet. Die vleis is op pakosse, waens en ander vervoermiddels na ThabaNchu geneem waar die Barolongs maande lank daarvan gebruik het.
Een van die Bloemfonteiners wat die Prins tydens die jagtog bygestaan het, was die grootvader van mnr. Bill Cole-man. Die Prins het oor sy skouer geskiet en na die jag het die Prins sy Westley Richards-geweer aan Coleman geskenk. Die geweer is steeds in die familie se besit en dit word in die Bloemfonteinse Museum uitgestal.
Vandag sou groot beswaar gemaak word teen so ‘n slagting van wild en dit sal glad nie toegelaat word nie, omdat dit onvededigbaar is en hoegenaamd nie strook met die gedragskode, norme en standaarde van jag, jagetiek en respek vir die wild en die natuur nie. Dit is eintlik tipies van die onaanvaarbare, dekadente oordadigheid van hoëlui en adelikes.
Bronnelys:
- Albertyn, CF: Ensiklopedie van die Wêreld
- Boëseken, AJ: Die Nuusbode
- Potgieter DJ SESA
- Lategan FV: Die Boer se Roer
- Robinson, TC: Caltex: Suid-Afrikaanse Erfenis: Deel V: Grootwild
- Rosenthal, E: Encyclopedia of Southern Africa
- Wilkinson, F: The Illustrated Book of Guns and Rifles.
- Hits: 6