Skip to main content

My Genealogiese Kronkelpad - deel 18

Begraafplase kan morbied en vreesaanjaend wees.  Vir die genealoog hou hulle ‘n eiesoortige bekoring in. Dit is dus geen wonder dat my genealogiese pad deur verskeie begraafplase gekronkel het nie.

Laat ek die soeklig net terugskuif na die beginpunt van my reis. In 1984 het ek my eerste besoek aan Cookhouse gebring want ek het spesifiek na die graf van Frans Johannes van Aardt van Roodewal gaan soek. Soos die lesers nou al weet, was ek onsuksesvol. My volgende besoek in 1989 het ook niks opgelewer nie. Maar die toeval is ‘n wonderlike werktuig waarmee die genealoog geseënd is.

Ek het in ‘n vorige hoofstuk beskryf hoe dit gebeur het dat ek ‘n foto van Carolus Johannes, Frans Johannes se seun se kopsukkie na bykans 170 jaar raakgeloop het. Ek het ook genoem dat ek ‘n afdruk daarvan aan Willem van Aardt, die huidige eienaar en bewoner van Roodewal gestuur het. Maar Willem was destyds ‘n baie besige man. Sy hoogs ontwikkelde merinoboerdery het sy tyd so in beslag geneem, dat hy vir minder ander dinge tyd gehad het. Die genealogiegoggatjie is egter ‘n vasberade kalant. Waar hy vasgebyt het, los hy nie maklik nie.

Willem se belangstelling was geprikkel en het begin fokus op die trommel met dokumente en fotos wat sy oorlede vader aan hom nagelaat het. Die ontdekking vandie fotos van Carolus en Maria van Aardt en hulle seuns, ‘die drie wesies’ was die lig in die tonnel. So het Willem besluit dat hy na Carolus Johannes se kopstukkie op die plaas Modderfontein moes gaan soek. Hy is wel bekend met die hele Somerset-Oos distrik en het geen moeite ondervind om die plaas op te spoor nie. Daar aangekom het hy gevind dat daar nie meer aktief op die plaas geboer word nie, maar dat dit nou ‘n wildsplaas was. Nadat Willem die doel van sy besoek verduidelik het, het hy met die eienaar se toestemming na die ou begraafplasie gaan soek.

Willem het dit wat daarvan oor was maklik gekry. Daar was slegs drie grafte op die terrein. Carolus Johannes se kopstukkie het eenkant gelê terwyl die ander twee grafte se kopstukke getoon het dat dit ‘n Van der Vyver egpaar se grafte was.( Op my Van der Vyver register kon ek vasstel dat dit Carolus Johannes se swaer en skoonsuster was.) Die eienaar van die plaas het geen beswaar gehad dat Carolus Johannes se kopstukkie verwyder en van verdere verwaarlosing gered word nie.

Die volgende dag het Willem begin om die kopstukkie skoon te maak en 170 jaar se verwering reg te stel. Die marmersteentjie is in ‘n japtrap met moderne skoonmaak middels verhelder en daarna is die inskripsie daarop versigtig met swart verf deur Willem hernieu. Die kopstukkie was na hierdie behandeling weer so goed as nuut. As finale maatreël het Willem dit met hoekyster omraam.

Maar dit was in die proses van skoonmaak dat toeval weer sy kop uitgesteek en ‘n hele nuwe wending veroorsaak het. Willem het die hulp van een van sy werknemers, ‘n bejaarde man wat sy hele lewe lank op Roodewal gewoon het, ingeroep. Dit is natuurlik en logies dat die ou man wou weet waar die kopstukkie vandaan kom, wie s’n dit is en waarom Willem dit nou skoonmaak. Willem het die rede waarom hy aan die kopstukkie waarde geheg het, aan die ou man verduidelik. En dit is op hierdie oomblik dat toeval in die vorm van ‘n eenvoudige vraag die loop van sake verander het.

‘Weet die Master van die grafte hier onder langs die Visrivier?’

Willem het ontkennend geantwoord. Alhoewel hy welbekend was met die oorblyfsels van die fort wat bekend was as Pos Van Aardt, die oorblyfsels van Susanna Wilhelmina se kookhuisie by die drif in die Visrivier en die gedenkteken wat vir die 1820 Setlaars opgerig is, het die bestaan van ‘n begraafplaas langs die Visrivier vir hom as ‘n volkome verrassing gekom. Hy het onmiddellik gereël dat die ou man hom daarheen sou neem.

Op die terrein aangekom het Willem gevind dat die vloed van 1974 skade aangerig het. Verder het hy gevind dat uit die aard van die ligging daarvan, dit op daardie tydstip ontoeganklik was weens oorgroeiing  deur soetdoring bome en struike.

Daar was net een uitweg – die terrein moes ontbos word. Dit sou ‘n paar dae in beslag neem, maar stelselmatig het dinge in plek geval.

Wat Willem hier ontdek het, was histories van groot belang. In die tyd van lord Charles Somerset was Pos Van Aardt beman deur ‘n kompanjie pandoere onder aanvoering van Blanke offisiere. Mortaliteit onder soldate was hoog, en vir dié doel is ‘n begraafplaas neffens die fort aangelê en ontwikkel. Hier het Willem nou die oorblyfsels van talle ongemerkte grafte, blykbaar van pandoere wat gesterf het, aangetref. Maar die belangrikste ontdekking was die oorblyfsels van die graf van Frans Johannes van Aardt van Roodewal! Al wat nou nog ontbreek het, was die graf van sy vrou Susanna Wilhelmina Tregardt. Dit is nooit gevind nie en sal ‘n ewige geheim bly.

‘n Reusetaak het nou op Willem gewag, nl. die restourasie van Frans Johannes se graf. Hy het dit met entoesiasme aangepak en geen koste of moeite gespaar om dit in ‘n netjiese toestand te kry en teen verdere verwaarlosing te beskerm nie. Intussen het hy Carolus Johannes se kopstukkie wat hy met soveel sorg vernuwe het, in die familiebegraafplaas op Baviaanskrantz staan gemaak.

(Word vervolg)

  • Hits: 8