Builepes DNS-oplossing vir ‘n eeu-oue raaisel?
Waar het die Swart Dood ontstaan?
Vir eeue word reeds bespiegel oor die eerste uitbraak en herkoms van die pes (Swart Dood). Van nature hou mense nie daarvan om lank te wag vir antwoorde nie. Die onlangse stormloop om die oorsprongspunt van die SARS-CoV-2 te vind – en om blaam toe te wys vir die pandemie - is ’n bewys. Wetenskaplike bewyse neem egter tyd. Soms ’n baie lang tyd. ’n Nuwe studie, bv. het uiteindelik die oorsprong bepaal van die eeue-oue builepes, beter bekend as die Swart Dood, wat bykans as 700 jaar gelede uitgebreek het.
Geskiedkundiges weet alles van die vernietiging en ontwrigting wat die Swart Dood, die builepes wat in die middel 1300’s die dood van miljoene mense in Eurasië veroorsaak het. Maar die basiese vrae oor die oorsprong daarvan het onbeantwoord gebly. Vandag het wetenskaplikes moontlik antwoorde op sommige van dié vrae. Na analise van DNS-spore in tande van pesslagoffers, het navorsers afgelei dat die oorsprong van die Swart Dood nagespoor kan word tot die huidige noordelike Kirgistan. Hul bevindings is onlangs in Nature gepubliseer, en dit dui daarop dat die Swart Dood daarvandaan langs die handelsroetes (die Syroetes) na Europa versprei het. Die Swart Dood het die sterfte van miljoene mense oor die loop van 500 jaar veroorsaak. Die punt van oorsprong is sedertdien gedebatteer en is volgens ’n nuwe studie tevore wantoegewys. Die studie het die ontstaan van die Swart Dood tot twee antieke begraafplase in die Chüy Vallei naby die Issyk-Kulmeer in hedendaagse Kirgistan, ‘n voormalige Sowjet republiek, aangewys.
’n Navorsingspan bestaande uit: hoofskrywer dr. Maria Spyrou, medeskrywer dr Philip Slavin, Prof. Johannes Krause, ‘n paleogenetikus van die Max Planck Instituut, Monica Green, Sharon Dewitte, en Simon Rasmussen, het wetensksaplike ondersoeke gedoen na die vroegste uitbraak van die pes. Hulle het gesoek na groot sterftes in gebiede in Sentraal Asië wat beskou is as die gebied van oorsprong. Die ondersoek het die oorsprong van die Swart dood opgespoor in ’n paar begraafplase, dié by Kara-Djigach en Burana in die Chüy-vallei naby die Issyk-Kul meer in die moderne Kirgistan, ’n voor-malige Sowjet republiek. Die Swart Dood is veroorsaak deur die bakterie Yersinia pestis. Begraafplase van Kara-Djigach en Burana het studiemateriaal gelewer. ’n Paar volle Yersinia pestis genome vanuit die data toon dat bakterië van Kara-Djigach aan die direkte voorste stam gekoppel kan word van die Swart Dood, insluitend ‘n Yersina pestis monster van ’n persoon wat in Londen gesterf het, wat in 2011deur Krause se span in sekwensie georden is.
Die Swart Dood is veroorsaak deur die bakterie Yersinia pestis. Die epidemie het die hawe Messina in Sicilië in 1347 bereik, toe skepe vanaf die Swart See daar vasgemeer het. Vandaar het dit die dood van 60% van die Wes-Eurasiese bevolking in net 8 jaar veroorsaak en vandaar het dit dwarsoor die vasteland versprei. In die eerste golf van die Swart Dood van 1334-1353 is daar na skatting tussen 75 tot 200 miljoen mense dood. Dit het voortgewoed in verskeie uitbrake oor 500 jaar, bekend as die Tweede Pesepidemie, waartydens die Pretoriusvoorsate, Barend Wesselzoon Schulte en sy vrou Annetchen tydens die pesepidemie in Leiden tussen 4/2/1668 - 23/10/1669 oorlede is. ’n Doeltreffende antiserum is eers in 1896 ontwikkel. Soos met die SARS-CoV-2, het die Swart Dood, so word geglo, ook in China begin, Sommige bronne dui steeds verkeerdelik dié land as oorsprong aan. Hierdie studie is in Nature Trusted Source gepubliseer.
Hierdie twee begraafplase, Kara-Djigach and Burana, is van 1885 tot 1892 opgegrawe. Ondersoek van die grafstene toon ‘n buitengewone aantal sterftes in 1338 en 1339, waarvan sommige toegeskryf word aan ‘n ongespesifiseerde pestilensie. Volgens die studie word die inskripsie van een grafsteen as volg vertaal: “In die jaar 1649 (AD 1338), die Jaar van die Tier, volgens Turkse Jaartelling. “Hierdie is die graf van gelowige Sanmaq. Hy het aan die pestilensie [“mawtānā”] gesterf.”
Deur kombinasie van genetiese fragmente wat uit geraamtes en tande van sewe indiwidue onttrek is, vyf van Kara-Djigach en twee van Burana, kon die skrywers van die studie vier genome saamstel wat sterk genoeg was om te bevestig dat die oorledenes geneties ooreengestem het met inwoners van die plaaslike omgewing. Baie belangrik is dat drie van die sewe indiwidue tekens van Yersinia pestis DNS bevat, wat bevestig dat die plaaslike “pestilensie” die Swart Dood was.
Die soektog na die siekte se oorsprong “is soos ‘n speurverhaal en nou het hulle goeie getuienis van die misdaadtoneel.” Soos speurders ‘n ingewikkelde raaisel oplos, vertrou die navorsers op ‘n klompie leidrade Die hoofbron van getuienis is die stoflike oorskot van drie vroue wat in die begraafplaas van ‘n middeleeuse gemeenskap naby die Issyk Kul meer aan die voetheuwels van die Tien Sjan berge geleë is. Hul grafstene dui die datums 1338 -1339 aan en dui aan dat hul aan die pestilensie dood is. Navorsers het waargeneem dat daar vele ander grafstene is met daardie datums, maar dat baie datums het van sewe of agt jaar voordat die pes Europa bereik het.
Toe navorsers die DNS getoets het wat onttrek is uit die pulp van die slagoffers se tande, het hul ‘n verbasende ontdekking gemaak: ‘n antieke stam van Yersinia pestis, die bakterie wat verantwoordelik was vir die Swart Dood was teenwoordig. Soos Monica Green opmerk: “Dit plaas ‘n speld op die kaart met ‘n datum daarby.”
Marmotte wat vandag in die gebied leef, het vlooie wat die stam van die bakterie dra – en die navorsers sê dat hierdie stam waarskynlik verwant is aan die antieke stam. Om hierdie rede hipotetiseer hulle dat marmotte oorspronklik verantwoordelik was vir oordrag van die siekte na mense. Daar is lank geglo dat die Swart dood se doodstormloop deur Eurasië gepaard gegaan het met ’n ontploffing van genetiese diversifikasie in rofweg vier takke. Twee van die genome in die studie verteenwoordig ’n enkele stam van Y.pestis wat die studie karakteri-seer as “die mees onlangse gemene voorsaat van ’n groot diversifikasie wat algemeen met die ontstaan van die pandemie geassosieer word.”
Die DNS het ook gehelp om die genetiese raaisel op te los wat navorsers reeds jare grys hare gegee het. Verskeie jare gelede het wetenskaplikes antieke DNS-analise gebruik om ‘n genetiese familieboom van die pes saam te stel wat aantoon hoe die verskillende stamme oor tyd ontwikkel het. Teen omtrent die tyd van die Swart Dood het die bakterie skielik in vier stamme verdeel, ‘n gebeurtenis waarna wetenskaplikes as “die Groot Knal” verwys.. Een van daardie vier stamme het waarskynlik die Swart Dood en die daarop volgende uitbreek in Europa veroorsaak. Nou, sê die navorsers, dat die stam wat in Kirgistan gevind is, die stam is van die familieboom, of die “moeder” stam, volgens Science. Van daardie stam kom die meeste van die pesbakterieë wat vandag nog bestaan. “Net soos Covid, was die Swart Dood ‘n ontluikende siekte, en die begin van ’n groot pandemie wat vir 500 jaar voortgeduur het.” het Krause verklaar. “Dit is baie belangrik om te begryp onder watter omstandighede dit ontluik het.” Hoofskrywer Dr Maria Spyrou het die Max Planck Stigting ingelig dat die antieke stamme wat hul in Kirgistan gevind het “presies geleë was by die knooppunt van hierdie massiewe diversifikasie gebeurtenis.” Mede-skrywer, Dr Philip Slavin, het Medical News Today meegedeel dat: “Genetiese diversifikasie is nog ‘n swak verstaande verskynsel. Om ‘n goeie begrip van die verskynsel te kry, is veel meer navorsing oor pesekologie nog nodig – iets waaraan peshistorici en wetenskaplikes voorkeur behoort te gee.”
Die ligging: Pesbakterieë floreer in knaagdier “pesvergaarplekke,” en hierdie besondere streek is ’n moontlike gebied vir zoonotiese oordrag. Senior skrywer Professor Dr Johannes Krause sê: “Ons het gevind dat die moderne pesstamme wat die naaste verwant is aan die antieke pesstamme, vandag gevind word in pesvergaarplekke in die omgewing van die Tien Sjan gebergte. So naby aan die plek waar die antieke pesstam gevind is. Omgewingsver-
anderinge en klimaat kan pesvergaarplekke soos wilde knaagdiere, of uitroei of hul in getalle laat toeneem. In albei gevalle, kan dit oorspoelgebeure ontketen, wat op hul beurt as sneller kan dien vir ’n epidemie,” het dr Spyrou gesê. ’n Stam van die Justiniaanse pes wat die Swart Dood voorafgegaan het, is ook in die gebied gevind. Alhoewel Dr. Spyrou opgemerk het dat “dit meer as 200 jaar ouer is as die eerste gedokumenteerde [Justiniaanse] uitbreek van AD 541.” Dr. Slavin sê: “Een ding wat ons met sekerheid kan sê, is dat dit voorkom asof die Tien Sjanstreek moontlik die eeu-oue, miskien millennia-oue, pesvergaarplekke het, behuisingverwante stamme wat verwant is aan die Kara-Djigach stam.” Die regte antwoord vereis egter geduld: “Ons huidige vermoeëns maak korrekte verbindings tussen die verlede en die huidige en dit is baie belangrik om te verstaan hoe besmetlike siektes verskyn, watter tipes gashere betrokke is in hul verskyning, hoe hulle tussen menslike bevolkings versprei, en watter faktore hul huidige verspreiding en verskeidenheid bepaal het,” sê Dr. Spyrou.
Eerder as om haastig ’n vinnige oplossing te soek, is ‘n uitgebreide benadering wys, volgens Dr. Philip Slavin: “Dit is belangrik om waar te neem hoe hierdie siektes evolusionêr en geskiedkundig ontwikkel, dit is altyd raadsaam om nie verskillende stamme as geisoleerde verskynsels te behandel nie, maar as iets wat gesetel is binne die wyer evolusionêre prentjie.“Om die verskynsel van opkomende epidemiese siektes te verstaan, is dit noodsaaklik om’n die groots moontlike evolusionêre prentjie te hê. Om te verstaan hoe epidemies ontstaan en ontwikkel, is dit belangrik om die omgewings- en ekonomiese geskiedenis waarin hierdie prosesse ontwikkel, in konteks te oorweeg.” volgens dr Philip Slavin.
Die Kara-Djigach stam was ook ’n voorloper van die oorgrote meerderheid van Yersina pestis wat vandag die rondte doen — volgens Krause ’n teken van ’n ontploffing van Y. pestis verskeidenheid kort voor die Swart Dood. “Dit was soos ’n Groot Knal van die pes,” het hy by ’n persverklaring gesê. Ander getuienis plaas die herkoms van die Swart Dood in hierdie deel van Sentraal Asië. Onder die moderne stamme van Yersinia pestis bakterië, dié wat uit marmotte en ander knaagdiere in Kirgistan, Kazakhstan and Xinjiang in noordwes-China, rondom die Tien Sjan bergreeks gemonster is, was baie nou verwant aan die Kara-Djigach stam. “Ons kan nie regtig sê dat dit hierdie of daardie dorpie of vallei is nie, maar dit is hoogswaarskynlik in daardie streek”, sê Krause. Knaagdiere is die natuurlike vergaarplek vir Y. pestis, en mense ontwikkel builepes net wanneer ‘n vektor soos ‘n vlooi die pesinfeksie oordra. Noue kontak tussen mense met geinfekteerde marmotte het waarskynlik die Kirgistan-epidemie laat ontbrand, teenoor immunologies naïwe rotbevolkings bevolkings in Europa wat die Swart Dood angevuur het. Tien Sjan maak sin as ‘n episentrum vir die Swart Dood, sê Slavin. Die streek is geleë op die antieke Syroete handelsweg, en die Kirgistan grafte het pêrels van die Indiese Oseaan, korale van die Middelandse See en uitlandse munte bevat, wat aandui dat goedere van verre deur die gebied beweeg het. “Ons kan hipotetiseer dat handel, beide lang afstand en plaaslik, ‘n belangrike rol moes gespeel het in die weswaartse verspreiding van die patogeen”, het dr. Philip Slavin gesê. Volgens Monica Green, geskiedkundige en onafhanklike vakkundige oor middel-eeue van Phoenix, Arizona, is die verkryging van genome van pesbakterieë wat voorlopers is van dié verantwoordelik vir die Swart Dood, “n geweldige deurbraak”. “Die grafstene is so na aan moontlik as wat ons sal kom aan doodsertifikate. Ons weet verseker dat hierdie stam van Y. pestis destyds in omloop was.” Maar sy is effens onseker oor die studie se gevolgtrekking dat die pes se “Groot Knal” ten tye van die sterftes in Kirgistan in 1338-39 voorgekom het. Green het veronderstel, op grond van genetika, ekologiese en geskiedkundige getuienis, dat die dertiende-eeuse uitbreiding van die Mongoolse Ryk die verspreiding en die diversifikasie van Y. pestis stamme gekataliseer het wat later verantwoordelik was vir die Swart Dood. Sharon Dewitte, ’n bio-argeoloog aan die Universiteit van Suid-Carolina in Columbia, sê die studie open deure vir verdere studie oor die Swart Dood – en die wyer uitbreek waarvan dit deel was, bekend as die tweede pesepidemie buite Europa. Sy sou graag demografiese en mortaliteitspatrone van mense wat dood is in die pes van Kara-Djigach met dié van die Europese Swart Dood begraafplase wou vergelyk. “Met meer pesmonsters uit antieke Asië en China sal dit uiters interessant wees in terme van meer getuienis om by te voeg by die Asiatiese oorsprong van die eerste en tweede pesepidemies,” voeg Simon Rasmussen by, ‘n rekenaarkundige bioloog aan die Universiteit van Kopenhagen wat die antieke Y. pestis sekwensies geanaliseer het. Krause hoop om die oorblyfsels uit China te ontleed om vas te stel hoe ’n pandemie wat Europa so geskaad het, in Oos-Asië gemanifesteer het. “Ons sou regtig graag ook die Oostelike deel van die geskiedenis wou kry.”
Die antieke Syroete(s) was ‘n uitgebreide aaneengeskakelde netwerk van handelsroetes dwarsoor die Asiatiese vasteland wat die Oos-, Suid- en Wes-Asië met die lande rondom die Middellandse See verbind het, sowel as met Noord- en Noordoos-Afrika en die res van Europa. Beskou as die "grootste roete in die mens se geskiede-nis,” het die antieke Syroete (300 VC – 100 AD) die eerste brug tussen die Ooste en Weste gevorm en was ‘n belangrike handelsverbinding tussen die antieke Chinese Ryk, Indië, Persië & Rome. Teen 100 VC, was die roete ’n kontakmiddel vir mense en kulture wat onderlinge uitruiling van dialoog, kuns, godsdiens, idees, en tegnologie bevorder het. Met sy ryk verskeidenheid in kulturele erfenis en rykdom aan natuurlike toerisme aantreklikhede oor 12000 kilometer van antieke roetes, bied die Syroete vandag nog aan besoekers die geleentheid om die unieke netwerk van bestemmings in die voetspore van die wêreld se bekendste ontdekkingsreisigers soos Alexander die Grote, Marco Polo en Ibn Battoeta te volg.
Suid-Afrika het nie hierdie pes vrygespring nie. Sedert September 1900 het groot getalle rotte by die Suidarm van die Kaapse dokke gevrek. Verskeie mense wat daar gewerk het, het onder verdagte omstandighede gesterf. Op 1 Februarie 1901 het EA McCallum, klerk vn die Suidarm-dokke, Kaapstad, siek geword en is in die Rondebosch Cottage Hospitaal gediagnoseer met builepes. Die pes is van Argentinië oorgedra deur rotte in die perdevoer vir die Britse militêre magte in Suid-Afrika. Die Wet op Openbare Gesondheid van 1897 het toe in werking getree. ’n Afsonderingshospitaal is by die Uitvlugt Bosboustasie (moderne Pinelands) ingerig. ‘n Tentkamp vir persone wat in kontak was met siekes, was ook by Uitvlugt. Swartes uit Distrik 6 is na ’n lokasie by Uitvlugt verskuif. Die Kaapse krotbuurtes het grootskaalse ontsmetting en skoonmaakaksie ondergaan. Mense is in honderdtalle na ‘n tentkamp by Ebenaeserweg en later na Maitland verskuif. Huise is met ontsmet-tingsmiddels bespuit, skoongemaak en opnuut uitgekalk. Hierdie taak is verrig deur gevangenes van die Breek-watertronk in ruil vir verkorting van hul vonnisse. Hierdie projek het verdere uitbrekings van die pes voorkom. Sien die bostaande grafiek vir besonderhede. Mense kan steeds vandag die pes kry, maar dit word doelttreffend behandel met antibiotika. Omdat higiëne baie verbeter het sedert die 14de eeu is dit vandag baie raar.
Bronnelys:
- Albertyn, CF Ensiklopedie van die Wêreld
- Bickford Smith, V, Van Heyningen, E, Worden, N: Cape Town in the 20th Century; Loch, S, Smith, P: Family Health Guide
- Caulson, J, Carr, T, Hutchinson, L, Great Encyclopedic Dictionary
- https:// en Wikipedia>org>wiki> Black Death; McWhirter, A, Oakes, D, Steyn, A: Illustrated Encyclopedia of Essential Knowledge
- co./articles/d41 586-022-0163-4. ealth Guide
- Hits: 1