Die Oudste NG Kerk in Londen
Hierdie kerk is oorspronklik in 1253 deur die Augustynse kloosterbroers gebou. Op 24 Julie 1550 het Koning Edward II die kerk volgens ‘n koninklike Oktrooi aan die Protestantse vlugtelinge toegeken sodat die vlugtelinge ‘n eie plek van aanbidding in die Londen kon hê. Hier in die Broad Straatwyk het die NG-gemeenskap in Londen vir sowat 400 jaar byeengekom en aanbid, totdat in die nag van 15/16 Oktober 1940, die kerk tydens ‘n Duitse lugaanval in puin gelê is. Op 23 Julie 1950, 400 jaar nadat die Oktrooi toegestaan is, is die hoeksteen van die nuwe kerk op dieselfde terrein deur Prinses Irene van Nederland gelê. Sy is gedurende die ballingskap van die Nederlandse koningshuis tydens die Tweede Wêreldoorlog, in die kapel van die Buckingham Paleis gedoop deur die predikant van die Austin Friars NG Kerk. ‘n Steen wat uit 1253 dateer, is uit die puin herwin en is gebruik as altaarsteen van die nuwe kerk – ‘n skakel uit die ryke verlede om ‘n geestelike fontein te skep in die omringende woestyn van groot sake-ondernemings. Uiterlik vetoon die nuwe kerk ‘n aantal gekerfde simbole wat die geskakeerde verlede van hierdie kerk weerspieël. Die monogram van koning Edward II verskyn bo die ingang, die monogram van Richard Arundel wat in 1397 op die nabygeleë Tower Hill onthoof is, verskyn ook hier. Hy is deur die Austin Friars broedermonnike hier begrawe, wat dui op die broederlike liefde wat hul aan tereggesteldes uit Tower Hill betoon het.
Die stadhouer van Nederland, Willem die Swyger, se monogram verskyn ook hier as herdenking aan sy stryd om Nederland se onafhanklikheid van Spanje te verdedig en te behou, en as herdenking van die skakel met die vroeë Hervorming in Holland. Die verenigende simbool van die kruis verskyn ook groot teen die muur. Die monogramme van koning George VI en koninginne Wilhelmina en Juliana verteenwoordig die skakel tussen die twee koningshuise. Die kerk is ‘n monument vir die vriendskap, samewerking en geestelike bande tussen die state Nederland en Brittanje. Verskeie Suid-Afrikaners is in hierdie kerk gedoop of getroud en het hier aanbid in die plek van stilte in een van Londen se oudste en besigste dele. Geloftedag, 16 Desember, is gereeld in die NG Kerk Austin Friars gevier. Maria Botha, premier Louis Botha se jonger suster wat hom soms vegesel het op sy reise na Londen., is hier getroud. Hier het sy verlief geraak op ‘n Britse offisier Robert Crawford Hawkin. Hul is op 22 Februarie 1908 in die NG Kerk Austin Friars getroud. Mev Botha-Hawkin was ‘n gewilde lid van die Suid-Afrikaanse gemeenskap in Londen. Op haar oudag het die vors deur sy “grace and favour” ‘n woonplek in Hampton Court Paleis aan haar toegeken, waar sy in 1960 oorlede is.
Bronnelys:
- Albertyn, CF: Ensiklopedie van die Wêreld
- Bateman,P: Generals of the Anglo-Boer War
- Beyers, CJ: SABW 4
- Heese, JA: SAG 1
- Heese, Nienaber, Pama: Families, Familiename en Familiewapens
- Joyce, P: South Africa in the 20th Century
- Joyce, P: South Africa’s Yesterdays
- McNab, R: Journey into Yesterday
- McWhirter, A: Illustrated Encyclopedia of Essential Knowledge
- Moolman, N: Dankie Generaal
- Pama: Die Groot Familienaamboek
- Potgieter, DJ: SESA; Redelinghuis, JH: Die Afrikaanse Familinaamboek
- Rosenthal, E: Encyclopedia of Southern Africa
- Scannell, JP: Afrikaanse Kernensiklopedie
- Hits: 5