Skip to main content

My Genealogiese Kronkelpad - deel 14

‘n Uitputtende rit is agter die rug. Wat sou daar nou op my wag?

Met my navorsing en aanvulling van my geslagsregister, het ek maar stadig gevorder. Ek het nog gereeld die Meesterskantore te Kaapstad, Kimberley, Bloemfontein, Pietermaritzburg en Pretoria besoek om inligting uit nuut aangemelde boedels te bekom. Die diens in die Meesterskantore was destyds baie flinker as hedendaags, maar inligting het skraps gebly. Verder het ek daarop gekonsentreer om telefonies en skriftelike inliging te probeer inwin, maar die reslutaat was redelik beperk. Nogtans het ek die reis voortgesit.

Dis op hierdie stadium dat my drukkertjie, ‘Made in Taiwan’,  besluit het dat hy genoeg gehad het en hy het die witvlag opgesteek. Dit het beteken dat ek ‘n nuwe drukker moes aanskaf. Die produk wat ek gekry het wat binne die raamwerk van my begroting geval het, was ‘n effense verbetering op sy voorganger maar dit kon nog nie berge versit nie.

Die toevallige sameloop van omstandighede speel ‘n groot rol in genealogiese navorsing. In my geval het daar onverwags drie sypaaie by my aangesluit en aldrie het vir my rigting aangedui.

Die eerste gebeurtenis was ‘n briefie wat ek van ‘n bibliotekaris in die Pietermartizburgse biblioteek ontvang het, Brian Spencer. ‘n Kopie  van my ‘Die Van Aardts van Chrissiesmeer’ het as gevolg van pligslewering in die biblioteek beland waar dit Brian Sprencer se aandag getrek het. Hy het my laat weet dat hy ‘n Van Aardt nasaat is en dat ek die vrymoedigheid moes neem om hom te nader indien ek inligting oor sy tak van die Van Aardts sou benodig.

Die tweede gebeurtenis was ‘n boek met die titel ‘Voortrekker Wetgewing. Notule van die Natalse Volksraad 1839 – 1845.’ Die outeur was Gustav S. Preller en dit is in 1924 deur J. L. van Schaik, Pretoria gepubliseer. My vrou het op ‘n dag voor Van Schaik se boekwinkel in Kerkstraat, Pretoria verby gestap waar daar tafels vol ou boeke uit hulle stoorkamers te koop aangebied is. Hierdie boek het my vrou se oog gevang en menende dat ek in daardie geskiedenis sou belangstel, het sy hom vir my aangekoop teen die skokkende prys van 10c! Wat ‘n winskoop het dit nie geblyk te wees nie.

Die boek het die verbatim notules van die Natalse Volksraad vanaf die ontstaan van die republiek tot met die ontbinding daarvan bevat.

Alhoewel die besprekings wat in die Volksraad gevoer is baie interessant was en waaruit ‘n breë prentjie van gebeure in daardie tyd gevorm kon word, was die inligting wat my regop laat sit het die feit dat die notules telkens deur W.A.van Aardt as voorsitter onderteken is. Ander ondertekenaars het Voortrekkerleiers soos H.S. Lombard, G.J. Rudolph, E. F. Potgieter en Andries Pretorius  ingesluit. Wie was Willem A. van Aardt? In skoolhandboeke is daar nêrens van so ‘n persoon melding gemaak nie, en tog speel hy nou ‘n leiersrol in die Voortrekkerrepubliek van Natal. Dit was ‘n uitdaging wat ek moes aanvaar en deurvoer. In my navorsing oor die Oos-Kaapse Van Aardts het die naam Willem Adriaan dikwels opgeduik, dus was dit duidelik dat my aanknopingspunt  daar gelê het. My eerste taak was dus om daardie punt te vind.

My soektogte in die NAB het niks opgelewer nie. Daar was wel ‘n paar grondtransaksies te Port Natal, Pietermaritzburg en Weenen gedokumenteer, maar geen sterfkennis nie.

Weer eens het die toeval ingegryp – ek het kennis gemaak met ‘n kenner van die ou Natalse geskiedenis: Jac. J. Uys. Nadat ek hom van my probleem vertel het was die enigste raad wat hy my kon gee om die boek ‘Die Geloftekerk’ deur H. B. Thom in die hande te probeer kry. Die volgende  oggend het ek ‘n handelaar in tweedehandse boeke in een van die deurlope in Pietermaritzburg besoek. En raai wat? Wonder bo wonder het ‘Die Geloftekerk’ op een van sy rakke gestaan! Binne ‘n oomblik was ek skatryk!

Om die hele storie van die navorsing wat hieruit voortgevloei het te vertel, sal teveel plek in beslag neem. Dit is in elk geval volledig in my boek ‘My van is Van Aardt’ bespreek. Opsommend kan ek wel sê dat ek vasgestel het dat Willem Adriaan van Aardt die seun van Frans Johannes van Aardt van Roodewal was, dat hy in 1840 na Pietermaritzburg getrek het met die uitsluitlike doel om sy oom Louis Tregardt se boedel te beredder en na die minderjarige Tregardt kinders om te sien. Hy het dadelik ‘n leidende rol in die politiek gespeel en na die afhandeling van sy testamentêre verpligtinge het hy hom en sy gesin in 1852 in die distrik Harrismith gevestig. Hier was hy steeds aktief in die politiek en in 1854 ‘n ondertekenaar van die Bloemfonteinse Konvensie. Sy meerderjarige kinders het egter verkies om in Natal aan te bly waar hulle vir hulle Engelssprekende huweliksmaats gekies het. Sy sterfkennis kon ook nie in die VAB of KAB opgespoor word nie en sy sterfdatum bly dus steeds ‘n geheim. Brian Spencer was van mening dat Willem Adriaan na 1870 na Aliwal-Noord verhuis het en daar gesterf het. Dit kon nie deur dokumente bevestig word nie. Sy weduwee, Anna Elizabeth Triegaardt is in 1903 te Harrismith oorlede en aldaar saam met een van haar dogters begrawe.

Soos hierbo gemeld, het ek deur middel van briewe nuwe inligting probeer inwin. So het dit gebeur dat ek ‘n brief aan die Argief in Windhoek gestuur het om navraag te doen oor Van Aardt boedels wat moontlik daar aangemeld is. En sowaar, daar kry ek ‘n afdruk van ‘n sterfkennis van ene Willem Adriaan van Aardt van die plaas Tsamab-Grundorn, Pos Hamrivier, distrik Warmbad, Duits-Suidwes Afrika gedateer 1934, geboorteplek Bethlehem. Sy pa word op die sterfkennis vermeld as Carolus Gustavus van Aardt. Sy ma se naam is nie gemeld nie, maar met die hulp van Brian Spencer kon ek vasstel dat dit Susanna Sophia de Waal was.

Nou het ek begin soek en grawe. Ek moes eenvoudig uitvind wie hierdie Willem Adriaan was en hoe hy met die Willem Adriaan van die Voortrekkerrepubliek geskakel het. Hier moet ek eerstens meld dat Willem Adriaan van Pietermaritzburg in 1869 in die kerk op Winburg by die doop van ‘n kleinkind as getuie geteken het. Daarna verdwyn sy spore. Ek kon darem met behulp van verskeie dokumente vasstel dat sy oudste seun se naam Frans Johannes was, vernoem na Frans Johannes van Roodewal terwyl sy tweede seun Carolus Gustavus was, vernoem na sy oupa Tregardt/Triegaardt aan moederskant. Die prentjie het nou so gelyk:

Willem Adriaan van Aardt x Anna Elizabeth Triegaardt

Seun: Carolus Gustavus Van Aardt x Susanna Sophia de Waal

Seun: Willem Adriaan van Aardt

Volgens die Namibiese sterfkennis was Willem Adriaan getroud met Emerentia Jacoba Davids wat in 1928 met die geboorte van hulle jongste kind oorlede is. Maar hoe dieper ek gedelf het, hoe duideliker het hierdie tragiese prentjie ontvou.

Willem Adriaan was eerstens met Anna Elizabeth van Coller getroud. In 1899 was hierdie egpaar die ouers van sewe kinders. Ses van hierdie kinders was tydens die ABO saam met hulle ouers gevange geneem en na die konsentrasiekamp te Harrismith gestuur (die oudste seun het as baba gesterf). Willem Adriaan is deur die Britse magte gewerf en die gesin is na twee maande in die kamp vrygelaat. In 1903 is daar nog ‘n kind gebore maar die moeder Anna Elizabeth sterf op 17.01.1905, ‘n gebeurtenis wat Willem Adriaan in ‘n onbenydenswaardige posisie laat. Gesien teen sy agtergrond en die algemene gevoel onder die Boerevolk teenoor joiners, het Willem Adriaan seker onder groot druk verkeer, want reeds voor 1910 laat hy sy minderjarige kinders in die sorg van familie en trek na die distrik Warmbad in Suidwes-Afrika.

Hier ontmoet hy Emerentia Jacoba Davids uit die Prieska distrik in die Noord-Kaap en hulle tree in 1911 in die huwelik.  Hier word elf kinders tussen 1912 en 1928 vir die egpaar gebore. Emerentia Jacoba sterf in 1928 by die geboorte van hulle jongste kind en Willem Adriaan het weer eens met dieselfde probleem gesit as in 1905 by die afsterwe van sy eerste vrou. Besonderhede is vaag maar uit beskikbare dokumente kon afgelei word dat een van die jonger kinders in die Koorshospitaal in Johannesburg opgeneem is terwyl ‘n ander een in die Witrandinrigting in Potchefstroo opgeneem is. Dis nie duidelik of die kind wat tydens haar ma se afsterwe gebore is, oorleef het nie.

Willem Adriaan is in 1934 oorlede wat beteken dat slegs die oudste kind uit sy tweede huwelik op daardie tydstip mondig was. Hy het ook sy pa se sterfkennis geteken. Willem Adriaan sterf op die plaas waar die gesin gewoon het. Volgens sy sterfkennis was daar geen vaste bates in sy boedel nie. Dit word vermoed dat die kerk tot die redding van die kinders gekom het. Hulle is almal oorgeplaas na die Abraham Krielkinderhuis in Langlaagte waar hulle gebly het tot met hulle skoolverlating.

Een van die seuns, Hector het na sy huwelik met Maria Adriana Farmer na Suid-Rhodesië verhuis waar hy in ‘n myn gewerk het. Hy is in 1958 daar oorlede.

In 2000 het ek mnr. Hektor van Aardt, seun van bogemelde Hector van Aardt ontmoet. Hy was destyds die skoolhoof van die Lord Milnerskool op Settlers. Omdat hy egter in Suid-Rhodesië opgegroei het, kon hy my nie van veel familie inligting voorsien nie.

In die VAB is ‘n sterfkennis van Carolus Gustavus, ‘n seun uit die eerste huwelik opgespoor. Hy het by familie op die plaas Wildehondekop, distrik Parys gewoon waar hy in 1914 sy eie lewe geneem het.

 

Ek het die lotgevalle van hierdie gesin volledig bespreek in my boek ‘My van is Van Aardt’. Soos ek hierbo genoem het, is dit ‘n baie tragiese geskiedenis.

(Word vervolg)

  • Hits: 5