My Genealogiese Kronkelpad - deel 15
Na die opwinding van die navorsing oor die twee Willem Adriaan van Aardts , oupa en kleinseun het my genealogiese pad tussen 1990 en 1995 deur ‘n soort semi-woestyn gekronkel. Dit kan aan twee redes toegeskryf word. Eerstens het my loopbaan einde se kant toe gestaan en ek was besig met die beplanning van my aftrede. Tweedens het my bronne eenvoudig opgedroog. Dit was asof daar ‘n stilte oor my bedrywighede neergedaal het. Maar ‘n genealoog gee nooit moed op nie. Deursetting is nou maar eenmaal deel van sy lewe.
Die groot skuif het aangebreek. Na ‘n tydperk van meer as 50 jaar het ek Pretoria gegroet en my in die rustigheid van ‘n aftree-oord op die dorp Warmbad gaan vestig. Dit was ‘n groot aanpassing in my lewe wat ek amper as ‘n nuwe lewe kan beskryf. Maar die mens is nou maar ‘n aanpasbare wese en nuwe roetines en lewenswyses het alledaagshede geword. Die internet het begin om deel te word van die alledaagse maar ek het nog nie sover gevorder nie. Om eerlik te wees, my rekenaar het duidelik begin seine uitstuur dat hy nie meer aan my verwagtinge kon voldoen nie. Onthou die hardeskyf se kapasiteit was net 20MB en my data het dit reeds oorskry. Ek moes dringend die getroue ou strydros vervang.
Die aankoop van ‘n nuwe rekenaar het nie net oplossings gebring nie, maar weer probleme van sy eie geskep. Floppies was iets van die verlede en is vervang met stiffies, opdragte is nie meer op die sleutelbord uitgetik nie maar deur middel van ‘n meganiese muis met ‘n lang stert oorgedra. My ou drukkertjie was ook nie meer funksioneel nie en ‘n nuwe drukker moes aangeskaf word. Maar die grootste omwenteling het by die programaandrywer gelê. Die nuwe rekenaar was toegerus met die voorloper van die MS-Word aandrywer wat tot gevolg gehad het dat behalwe vir my DOS-program, al my ander programme en dokumente in die stof gebyt het.
Daar was net een oplossing vir die probleem: Ek moes al my programme hersaamstel en al my dokumente moes van A tot Z in die nuwe formaat oorgetik word. Maar dit moes gedoen word, ek het nie ‘n keuse gehad nie. Maande se werk het voor my gelê.
Die toeval se rol in die lewe van ‘n genealoog kan nooit onderskat word nie. Destyds was daar op die Afrikaanse Radiodiens ‘n program genoem ‘So het dit gebeur’ waarin bekende Suid-Afrikaanse geskiedkundiges luisteraars se vrae oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis beantwoord het. In een van die programme is daar breedvoerig oor Aliwal-Noord en sy rolspelers tydens die Anglo-Boereoolog gepraat. Die het gelei tot my kennismaking met Madeleine Joubert van die Aliwal-Noord Museum en haar eggenoot, Gideon Joubert. Wat hierdie ontmoeting nog merkwaardiger gemaak het, is die feit dat Gideon Joubert se ouma ‘n nooi Van Aardt was en dit het dadelik tot die uitruil van familienavorsing bygedra. Verder het ek ook die voorreg geniet om per pos kennis te maak met die kenner van die Aliwal-Noord geskiedenis, nl. Abrie Oosthuizen. Hy het op daar die tystip reeds twee boeke oor Aliwal-Noord tydens die ABO gepubliseer en my pad vorentoe het nou duidelik die semi-woestyn verlaat en duidelik in die rigting van Aliwal-Noord gewys. Soos ‘n bloedhond het ek hier ‘n kosbare storie geruik – een wat ek ten alle koste moes ontgin.
Aliwal-Noord was bekend vir sy warmwaterbronne en waarom sou ek nie my genealogiese passie met ‘n bietjie plesier inkleur nie? Ek was mos nou ‘n pensioentrekker en kon my tyd volgens my eie keuse benut. So het dit dan gekom dat ek my kleinseun (vyf jaar oud) op Bloemfontein gaan oplaai het op pad na Aliwal-Noord. Ek het vir ons ’n week se verblyf by die warmbronne bespreek wat my genoeg tyd vir ontspanning en navorsing sou gun.
‘n Wonderlike ontvangs by die Jouberts en Abrie Oosthuizen het my te beurt geval. Ek het binne die bestek van ‘n week die hele ryk geskiedenis van Aliwal-Noord tydens die ABO leer ken en so te sê eerstehands daarmee kennis gemaak.
Die gebrek aan kennis wat deur die vak ‘Geskiedenis’ op skool aan leerlinge oorgedra is, het sterk na vore gekom. Op skool is daar in die geskiedenisleerplan op ‘n baie terloopse wyse na die Vrystaatse inval in die Noord-Kaap, die anneksasie van die gebied namens die Vrystaatse regering en die gekonsentreerde veldslae wat daarop gevolg het, verwys. ‘n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan.
Die eerste boek wat ek hier moet noem is die ‘n Republiek vir die Stormberge’ uitgegee deur die museum op Aliwal-Noord. Dit is hoofsaaklik op Abrie Oosthuizen se navorsing geskoei en bevat ‘n omvattende geskiedenis van hierdie dorp en sy mense gedurende die ABO. Ek het ook kennis gemaak met die boeke ‘Rebelle van die Stormberge’ deur Abrie Oosthuizen, ‘Op die Stormberge’ deur Hennie Aucamp en ‘Stormberg a lost Opportunity’ deur Johannes Meintjes.
Wat veral my aandag getrek het is die rol wat deur Jacobus Gustav van Aardt in die gebeure gespeel het.
Op 13 November 1899 het die Vrystaatse Kommandos onder aanvoering van hoofkommandant J. H. Olivier van Rouxville die Oranje-rivier oorgesteek en die Stormberggebied tot Vrystaatse grondgebied verklaar. Op ‘n vergadering van plaaslike burgers, is Jacobus Gustav van Aardt tot kommandant van die nuutgestigte Aliwal-Noord kommando verkies.
Die Britse magte onder aanvoering van Luit. genl. Gatacre was besig om uit die rigting van Jamestown na Aliwal-Noord op te ruk. Die eerste volskaalse ontmoeting tussen die Boere en Britte sou in die omgewing van Stormberg plaasvind. Die Britte se beplanning het om verskeie redes skeefgeloop en in die nag van 10 Desember 1899 het die Boeremagte ‘n klinkende oorwinning oor die Britte behaal. Die Britte het onmiddellik na Jamestown teruggetrek om te herorganiseer.
Die Boeiemagte het die voordeeel wat hulle behaal het deur hulle vingers laat glip deur nie hulle suskses op te volg nie. Gevolglik het die die gety met die volgende veldslag by Kissiesberg teen die Boeremagte gedraai en hulle was verplig om na Aliwal-Noord terug te val. Die Boeremagte was nou grootliks gedisorganiseer en die entoesiasme om die stryd teen die Britte voort te sit het vervaag. Kmdt. Gustav van Aardt het nog ‘n poging aangewend om sy kommando te inspireer om die stryd voort te sit, maar sy pleidooie het op dowe ore geval.
Teen hierdie tyd was Van Aardt as ‘n Kaapse Rebel gebrandmerk en die Britte het ‘n aansienlik losprys vir sy gevangeneming aangebied. Van Aardt se posisie het onhoudbaarbaar geword en hy het besluit om in self opgelegde ballingskap te gaan, liewer as hom aan die Britse magte oor te gee. Nadat hy sy gesin op sy plaas Windvogelspruit gaan groet het, het hy in ‘n noordelike rigting al langs die grens van Lesotho tot in Lourenco Marques gevlug. Hier het hy aan boord ‘n skip na Portugal vertrek waar hy vir die res van die oorlog in Caldas da Reinha as banneling sou deurbring.
Na die vredessluiting is Van Aardt na die Kaap gerepatrieer waar hy militêr verhoor en tot tronkstraf gevonnis is. Al sy besittings is ook verbeurd verklaar en by openbare veiling vekoop. Hy is egter begenadig en sy tronkstraf is opgeskort waarna hy toegelaat is om na Aliwal-Noord terug te keer. Hy was egter ‘n gebroke man en is in 1906 oorlede en op sy plaas Windvogelspruit begrawe.
Hierdie vertelling sou egter onvolledig wees sonder Jacobus Gustav van Aardt se genealogiese agtergrond. Lesers sal onthou dat my hele genealogiese navorsing sy ontstaan by Frans Johannes van Aardt van die plaas Roodewal, distrik Somerset gehad het. Om Jacobus Gustav van Aardt van Aliwal-Noord met die Van Aardts van Roodwal te verbind, het nie veel inspanning geverg nie.
Frans Johannes van Aardt van Roodewal se eerste huwelik was met Susanna Wilhelmina Tregardt, suster van die trekkerleier Louis Tregardt. Tussen 1799 en 1823 is daar 14 kinders vir hierdie egpaar gebore waarvan Jacobus Gustav gebore op 30.08.1819 die twaalfde een was. Na Jacobus Gustav se huwelik met Helena Catharina Johanna Bekker gebore op 21.01.1823 het die egpaar noordwaarts verhuis en hulle in die omgewing van Aliwal-Noord gevestig waar ‘n seun, Jacobus Gustav, die latere kommandant, in 1852 gebore is. Hy is metterjare met Elsje Sophia Johanna Bekker, ‘n familielid van sy moeder, getroud. Haar geboortedatum was 15.11.1856 en sy is op ‘n rype ouderdom op 11.08.1933 oorlede en ook op Windvogelspruit begrawe.
Die nageslag van Jacobus en Elsje van Aardt was jare lank welbekende inwoners van die Aliwal-Noord distrik.
(Word vervolg)
- Hits: 4