Skip to main content

My Genealogiese Kronkelpad - deel 17

Maar tyd staan nie stil nie. Die ontwikkeling van tegnologie ook nie. In 1999 het ek ‘n dringende behoefte begin voel om my op die terrein van die internet te waag. Ek het nuwe geleenthede vir die uitbreiding van my navorsing daarin gesien en moes dit probeer benut. Maar ‘n nuwe rigting wat ek vol verwagtinge aangepak het, het op ‘n algehele mislukking uitgeloop en dit sou nog tien jaar duur voordat ek weer op daardie punt sou uitkom.

Destyds was die internet, op die platteland altans, nog in sy kinderskoene. Op Warmbad was daar ‘n IT handelaar wat onder andere ook internet fasilitiete aangebied het. Dit het so gewerk. Klante wat van die internet fasilitiete gebruik gemaak het, het ‘n sekere intreefooi asook maandelikse subskripsie betaal. Dit het die klant dan toegang tot die internet wat vanaf Nylstroom bedryf is, verleen. Maar in vergelyking met hedendaagse tegnologie was die hele stelsel redelik wankelrig. Wanneer ek bv. van die internet gebruik wou maak, moes ek die verskaffer se Telkom nommer op Nylstroom skakel. Indien daar op daardie oomblik internet beskikbaar was, het die verskaffer my daarmee gekonnekteer en kon ek dit op my rekenaar benut. Die haakplek het egter by die koste gelê. Die koste van ‘n klant se internetgebruik is bereken volgens die tydsduur van sy Telkom oproep van Warmbad na Nylstroom. Dit sal dus gesien word dat die gebruik van die internet vir slegs ‘n halfuur, ‘n aansienlike bedrag op my

Telkom rekening weerspieël het.

Die gevolg was dat ek minimaal van die internet gebruik gemaak het wat teenproduktief was teenoor die doel waarvoor ek dit bekom het. Ek het dus geen ander keuse gehad as om die diens te kanselleer nie. Maar hier het daar weer ‘n slaggat op my gewag. Ek kon die verskaffer nie beweeg om die kontrak te kanselleer nie en moes ten einde raad die hulp van ‘n prokureur inroep. In geheel gesien, was dit dit ‘n duur les wat ek gleer het. Vir eers was ek van die internet gespeen! Ek was teen wil en dank geforseer om maar met my primitiewe metodes van navorsing voort te gaan.

My rekenaar het my ook duidelik laat verstaan dat hy nie meer die pas kan volhou nie en ek moes weer eens nuwe apparaat aanskaf. Dit het heelwat nuwe tegnieke ingesluit. Stiffies was nou ook iets van die verlede en die nuwe rekenaar was met ‘n DVD/CD leser en poorte vir geheuestokkies toegerus. Die wonderlikste vooruitgang was egter by my nuwe drukker te bespeur. Dit kon nou dokumente skandeer, afdrukke maak en allerhande ander ‘fancy’ dinge doen. Voorwaar vooruitgang!

My teleurstelling het egter by die gebruik van CDs gelê. Dit was gerieflik om dokumnete en programme na ‘n CD te kopiëer maar hulle het net ‘n beperkte lewe gehad en ek kon nie aanhoudend nuwe CDs aankoop nie. Maar die geheuestokkies het tot my redding gekom. Toe ek eenmaal die gebruik daarvan bemeester het, het ek nie weer teruggekyk nie.

My tyd op Warmbad het ook skielik tot ‘n einde gekom. My eggenote, Antonette het ‘n reeks beroertes ondervind. Die nodige mediese fasilitiete het op Warmbad ontbreek en ek kon dit nie bekostig om feitlik op ‘n weeklikse basis na Pretoria te reis vir mediese behandeling nie. Daar was net een oplossing – ek moes my rustige lewe op die platteland inboet vir die gejaagde lewe in die stad. Dit het darem die voordeel van gesofistikeerde mediese behandeling ingehou.

Wat my genealogiese navorsing betref, het daar maar min gebeur. Daar was soveel ander dinge wat my aandag vereis het, dat ek dit eintlik verwaarloos het. Wanneer daar egter ‘n geleentheid opgeduik het, het ek nie geskroom om die nodige aanvullings op my geslagsregister te maak nie. So het dit stadig maar seker vordering getoon.

Die jaar 2009 het groot veranderinge in my lewe gebring. Die belangrikste was die feit dat my seun en sy gesin vir ‘n tydperk van vier jaar na Brasilië verplaas is. Dit het feitlik my hand geforseer om weer die uitdaging van die internet te aanvaar. Dit was noodsaaklik dat ons en ons kinders, veral in die lig van hulle ma se siekte, gedurig in kontak moes wees. Skype en internet was dus my voorland.

Gelukkig het dit hierdie keer baie beter gegaan. Ek het van Telkom as verskaffer gebruik gemaak en daar was geen haakplekke nie. Inteendeel, nou het ek uitgevind dat die internet vir my ‘n nuwe wêreld ontsluit het, nie net wat kommunikasie met ons kinders betref het nie, maar ook op die gebied van navorsing. Genealogiese webblaaie was nou beskikbaar en ek kon skaars voorbly om al die inligting wat ek ingewin het, te verwerk.

Ek het begin om Van Aardt kontakte dwarsoor Suid-Afrika en ook in die buiteland op te bou. Hierbenewens het ek ook nou toegang gehad tot die Argiewe en Meesterskantore se webblaaie. Dit was soos manna in die woestyn. Nou was dit nie meer vir my nodig om indekse in die betrokke kantore te gaan opsoek nie want ek kon die indekse direk op die internet raadpleeg. Met hierdie inligting geredelik beskikbaar, was dit ook nie moeilik kopieë van dokumente te bekom nie.

Die grootste voordeel wat ek egter uit die internet geput het, was my kontak met verskeie genealogiese webblaaie, bv. dié van die GGSA. Tot vandag toe bly dit een van my grootste gnealogiese hulpbronne. Met die agteruitgang in die gewone posdienste, het kommunikasie deur middel van die internet ook onontbeerlik geword. As ek nou terugdink aan die beginjare, kan ek my skaars voorstel hoe ek sonder die internet oor die weg gekom het.

Kort na ons verhuising na Pretoria het ek een middag na ete ‘n ruskansie geniet toe my selfoon skielik gelui het. Ek het geantwoord en die persoon aan die anderkant het homself soos volg voorgestel:

‘My naam is Carolus Johannes Christiaan van Aardt. Ek het op die plaas Tafelkop, distrik Ermelo grootgeword maar woon tans in Pretoria. Onlangs, terwyl ek deur my bejaarde moeder se dokumente gekyk het, het ek op ‘n boekie ‘Die Van Aardts van Chrissiesmeer’ afgekom en daarin jou telefoonnommer en adres gekry. Ek stel baie belang in die Van Aardt familiegeskiedenis en wil hoor wanneer dit vir jou gerieflik sal wees om my te ontmoet.’

Hierdie telefoonoproep sou ‘n hele nuwe wending in my genealogiese pad veroorsaak.

Die telefoonoproep het gelei tot ‘n persoonlike ontmoeting wat weer in gereelde kuiertjies verander het. Dit was wonderlik om met ‘n Van Aardt van Ermelo, waarvan ek net vaagweg bewus was, kennis te maak en inligting uit te ruil. Carl se entoesiasme het geen perke geken nie. Hy het sy voorgeslag tot in die fynste besonderhede uitgepluis, insluitend sy ma se familie, en fotos versamel sover as wat hy gegaan het. In die proses het hy inligting van onskatbare waarde insake sy oupa gedurende en na die ABO versamel en gedokumenteer.

Dit het ook nie lank geneem  nie, of Carl het gevoel dat al hierdie inligting te boek gestel moes word. As ‘n vertrekpunt het Carl sy dokument in lêervorm gebind, maar inligting het aanhou instroom en kort voor lank het die behoefte ontstaan dat dat dit alles behoorlik te boek gestel moes word en op so ‘n wyse permanent bewaar kon word.

Dit het gelei tot die uitgawe van die boek ‘ Die Familie Van Aardt van Tafelkop, distrik Ermelo’ in 2018. Dit is ‘n genealogiese werk van uitstaande gehalte en ‘n sieraad op my boekrak.

En daardie telefoonoproep in 2009 het gelei tot ‘n hegte, lewenslange vriendskap met ‘n familielid wat met passie vir sy onderwerp vervul is. Lank lewe ons vriendskap Carl! Baie dankie vir daardie telefoonoproep in 2009!

(Word vervolg)

  • Hits: 4