My Genealogiese Kronkelpad - deel 16
My genealogiese kronkelpad het in 1984 ‘n rigting ingeslaan waarop ek my nog steeds bevind het. Dit was die oorsprong van my soektog na Frans van Aardt van Roodewal en sy seun Carolus Johannes en alles wat daarmee in verband staan.
Alhoewel ek reeds by twee geleenthede die voorreg gehad het om die ou familieplase in die distrikte Somerset-Oos en Bedford te besoek, en ek in die proses hope nuwe inligting kon versamel, het daar tog nog steeds iets ontbreek. Ek kon nie my behoefte verwoord nie, maar die leemte was daar. Dit het gedurig aan my deur geklop.
Alhoewel ek wonderlike ondersteuning van die Noord-Transvaalse tak van die GGSA ontvang het, kon ek weens geografiese redes nie die vonkie wat ek nodig gehad het, vind nie. Dit is toe dat ek besluit het om my lidmaatskap na die GGSA se tak in Port Elizabeth te verskuif. Daardie wonderlike persoon, Janet Mellville was destyds daar in beheer van sake.
Ek het van die begin af tuis gevoel in my nuwe tak. Die nuusbrief wat aan lede uitgestuur is het waardevolle brokkies inligting bevat en wenke en leiding was mildelik beskikbaar. Ek het as ‘t ware tuis gekom.
Om die leser se geheue te verfris, moet ek hier net weer noem dat die Carolus Johannes van Aardt waarna ek so naarstiglik gesoek het, en wat blykbaar op ‘n vroeë ouderdom gesterf het, getroud was met Maria Johanna Wilhelmina van der Vyver. Soos reeds gemeld, is sy in 1831 weer getroud en wel met ‘n boer uit Graaff-Reinet se omgewing, Gideon Joubert. Maar dis waar ek teen ‘n muur vasgeloop het. Ek kon nêrens nadere inligting oor die situasie opspoor nie.
My skuif na die Oos-Kaapse tak van die GGSA het nie lank geneem om vrugte te dra nie. Ek was bevoorreg om deur middel van die tak kennis te maak met ‘n Van der Vyver navorser, William van der Vyver, wat op daardie tydstip in Kaapstad gewoon het. Hy was ‘n nasaat van die Oos-Kaapse Van der Vyvers en het ‘n uitgebreide geslagsregister opgestel waarvan hy ‘n afskrif op onbaatsugtige wyse tot my beskikking gestel het. Op hierdie dokument kon ek nou Maria van der Vyver se herkoms tot in die fynste besonderhede bepaal. Maar daar het ek weer teen die muur vasgeloop. Die geslagsregister het wel Carolus Johannes van Aardt se naam bevat, maar dit was al. Geen verdere besonderhede soos datums of plekname nie.
Nietemin, inligting is en bly waardevol en ek was dankbaar vir dit wat na my kant toe gekom het.
En toe het die deurbraak gekom, skielik en onverwags. Eendag, ek dink dit was in die jaar 2001, het ek in die pos ‘n kort briefie van William van de Vyver ontvang. By die briefie was ‘n dowwe afdruk van ‘n kopstuk van ‘n graf ingesluit welke kopstukkie deur kinderhande regop gehou is. William se byskrif by die afdruk van die foto was kort en bondig: Weet jy miskien wie was CJ van Aardt wat op die plaas Modderfontein, distrik Somerset-Oos begrawe is?
Hier was nou die sleutel waarna ek al die jare lank gesoek het. Wie sê wonderwerke kan nie gebeur nie?
Daar was egter ook ‘n tragiese sy aan die saak verbonde. Binne ‘n maand nadat ek William se briefie ontvang het, is hy skielik oorlede. Maar my dankbaarheid vir wat hy vir my gedoen het, sal altyd by my bly. Hierdie inligting is later bevestig deur ‘n dokument wat deur die Oos-Kaapse tak van die GGSA opgestel is en al die plaasgrafte in daardie gebied gelys het.
Hierdie nuutgevonde inligting het my genoop om dit met Willem van Aardt van Cookhouse te deel. Die reaksie van sy kant was baie positief en het hom aangemoedig om ‘n trommel vol dokumente wat hy van sy pa geërf het stelselmatig deur te werk en na historiese dokumente en fotos te soek.
Die hoop beskaam nie. In die trommel het Willem ‘n ware skat ontdek – ‘n foto van Carolus en Maria van Aardt wat in die 1820s geneem is!
Maar dit is net ‘n deel van die prentjie wat hierna ontvou het. Lesers sal onthou dat Carolus Johannes die tweede seun uit die huwelik tussen Frans van Aardt van Roodewal en Susanna Wilhelmina Tregardt was. Getrou aan die tradisies van die tyd, is hy na sy oupa aan moederskant vernoem. Met sy ontydig vroeë afsterwe het Carolus Johannes ‘n weduwee en vier klein seuntjies nagelaat. Die oudste seuntjie (skrywer se grootoupa Frans Johannes) was slegs sewe jaar oud terwyl die jongste ‘n tweejarige kleuter was. Hulle sou daarna in familiekringe as die ‘vier wesies’ bekendstaan. Totdat die weduwee vir haar ‘n nuwe heenkome kon vind, is sy en haar vier seuntjies deur hulle oupa op Roodewal in sy huis opgeneem en versorg.
In 1831 hertrou die weduwee Van Aardt met Gideon Joubert, ‘n boer uit die distrik Graaff-Reinet en die gesin verhuis daarheen. In 1839 tref ‘n tragedie die gesin toe die derde seun, Carolus Johannes Christiaan op 13-jarige leeftyd in ‘n ongeluk met ‘n perdekar die lewe laat.
Die tweede seun, Willem het hom intussen op die plaas Rietfontein suid van Somerset-Oos gevestig waar hy in 1866 op die ouderdom van 43 jaar sterf. Die jongste seun, Bartholomeus Jacobus het hom op die plaas Baviaanskrantz, distrik Bedford gevestig waar hy ‘n susksesvolle perdeboerdery bedryf het. In 1877 sterf hy aldaar in die ouderdom van 59 jaar. Slegs die oudste van die vier wesies, grootoupa Frans Johannes het ‘n gevorderde leeftyd bereik. Hy is in 1900 tydens die ABO op die plaas Goedehoop in die distrik Ermelo oorlede
Die grafsteentjie wat op Modderfontein ontdek is, was egter net die begin van groot ontdekkings wat ‘n paar jaar later sou volg.
(Word vervolg)
- Hits: 4