Skip to main content

My Genealogiese Kronkelpad - deel 19

Nog ‘n skof van my genealogiese pad was agter die rug. As ek teuggekyk het, het ek ‘n diverse landskap gesien: boomryke dele, grasvlaktes en half-woestyne. Maar wat ek gesien het, was ongetwyfeld opwindend en gevul met satisfaksie. En dit het my weer moed gegee vir die onbekende stuk pad wat nog voorgelê het. En omdat dit die laaste stuk pad was wat nou voor my gelê het, het ek gedwonge gevoel om vir my ‘n rytuig aan te skaf waarmee ek vol vertroue die pad kon aandurf. Dit het daartoe gelei dat ek vir my die beste pc wat in die handel beskikbaar was, aangeskaf het. Nou was ek gereed vir die laaste skof.

Die ontdekkings en inligting wat ek in die bykans 30 jaar wat verby was versamel het, het my tevrede en gelukkig laat voel. Maar daar was nog twee aspekte wat aan my gekrap het. Lesers sal onthou dat ouma Hannie se nooiensvan ook Van Aardt was. Sover het ek haar kant van die familie bietjie verwaarloos en nou het die tyd aangebreek om dit reg te stel. Nog ‘n aspek wat bietjie gekrap het, was my ma, nooiensvan De Villiers se agtergrond inligting. Die tyd het aangebreek dat ek ook meer aandag daaraan moes gee.

Ek sal met ouma Hannie se storie begin. Soos reeds voorheen genoem, was grootoupa Louis Jacobus van Aardt ‘n soort van misterieuse figuur op die agtergrond waaroor niemand eintlik gepraat het nie. Met verloop van tyd en in my normale navorsing het ek egter ‘n paar belangrike feite versamel. Hy en sy gesin het op die plaas Makatieskop, distrik Winburg gewoon waar grootouma op 32 jarige leeftyd oorlede is en ‘n huis vol minderjarige kinders agtergelaat het. Grootoupa het daarna na die distrik Pretoria verhuis waar ouma Hannie en oupa Willem mekaar in 1889 ontmoet het. Na hulle huwelik in Februarie 1890 het hulle op die plaas Hamilton, distrik Ermelo gaan woon waar oupa sy pa, grootoupa Frans Johannes in die boerdery bygestaan het. Die baba wat tydens grootouma se afsterwe gebore is, is deur familie in die distrik Winburg aangeneem, die dogter Dorothea is deur ds. Bosman van die NG Kerk in Pretoria aangeneem terwyl die seun Pieter Barendse van latere Kenya-faam, deur ‘n gesin in die distrik Standerton aangeneem is.

My verdere navorsing het aan die lig gebring dat grootoupa Louis Jacobus hom ook op Hamilton gevestig het. In sy omswerwinge het hy die weduwee Trichardt, gebore Hamman in die distrik Bethal ontmoet. Na hulle huwelik het hulle blykbaar op die bruid se plaas gewoon waar drie dogters vir hulle gebore is.

Met veel moeite wat ‘n rit na Paulpietersburg ingesluit het en telefoniese navrae, kon ek vasstel dat grootoupa Louis Jacobus op die plaas Ongezien, distrik Bethal oorlede en begrawe is. My volgende stap was om ‘n plaaskaart van die distrik te bekom en die ligging van die plaas te bepaal. Dit was maklik gesê en gedaan, maar my kontakte was te yl om blindelings na die plaas toe te ry en na grootoupa se graf te gaan soek. “n Groot geluk het my getref toe ek kennis gemaak het met ‘n mnr. Ehlers, die eienaar van ‘n gastehuis op Bethal. Hy het intens in die geskiedenis van Bethal belang gestel en het sonder versuim aangebied om Ongezien te besoek en na grootoupa se graf te gaan soek. Dit was ook nie lank nie of ek het sy terugvoer ontvang.

Daar was ‘n klein begraafplasie op die plaas waarin daar slegs drie grafte was, nl. dié van Albertina Magdalena van Aardt, ‘n Trichardt kind en ‘n graf wat vermoedelik dié van grootoupa Louis Jacobus was. Hierdie graf was in ‘n vervalle en uiters verwaarloosde toestand. Daar was geen inskripsies op die oorblyfsels van die betonblad sigbaar nie en dit het ooreengestem met ‘n beskrywing wat ek tydens my soektog by dr, Trichardt van Durban gekry het.

Intussen het ek die pas probeer volhou met my gewone navorsing. Daar was nou soveel kontakte op die internet beskikbaar, dat ek stadig maar seker my geslagsregister kon bywerk en nuwe inligting byvoeg.

Ek kon ook nou meer tyd aan die De Villiers familie wei. Ek moet erken dat ek redelik op hoogte was van my ma se familie. Dit het voortgespruit uit die De Villiers geslagsregister wat in boekvorm gepubliseer is asook die boekies deur wyle dr. Con de Villiers oor die Overbergse Viljees. Ek moes nou net al  die feite agtermekaar kry en boekstaaf.

Grootoupa Johannes Albertus de Villiers gebore 1811 is in 1870 op die familieplaas in die Caledon/Napier omgewing oorlede en begrawe. Daarna het grootouma Susanna Catharina Margaretha de Villiers, gebore Du Toit haar kroos, getroud en ongegetroud, bymekaar gemaak en sak en pak na die distrik Ermelo in die ZAR getrek, Dit was vroeg in die 1880s. Hier het die familie op verskeie standplase te lande gekom. Oupa Pieter Johannes en ouma Johanna Catharina het saam met grootouma hulle op die plaas Rietspruit tussen Ermelo en Amersfoort gevestig. Grootouma is hier oorlede in 1887 en in die ou begraafplaas op Ermelo ter ruste gelê. Volgens gebruik van daardie tydvak is daar nie ‘n steen en kopstuk op haar graf opgerig nie. Dit is egter toegemessel in ‘n struktuur wat destyds as ‘n ‘bakoondgraf’ bekend gestaan het. Met die besetting van Ermelo tydens die ABO kon die Tommies nie hulle nuuskierigheid bedwing nie en het hierdie struktuur afgebreek op soek na verborge skatte wat hulle natuurlik nie gevind het nie.

Reeds in 1974, nog voordat ek met my familienavorsing begin het, het ek grootouma se graf gaan opsoek en net ‘n hoop rommel daar aangetref.

Die tyd het nou aangebreek dat ek uit respek iets aan die graf moes laat doen. In 2009 het ek ‘n spesiale rit na Ermelo onderneem met hierdie doel voor oë. Die graf het nie meer bestaan nie. Die Munisipaliteit het op ‘n tydstip na 1974 ou grafte laat opruim en die persele met gras beplant.

My volgende stap was om die plaaslike begrafnis ondernemers te besoek en te reël vir die oprigting van ‘n mooi kopstukkie op die graf wat die aanslae van die tyd sou kon weerstaan. So gesê, so gedaan. Binne ‘n week het die nuwe kopstukkie op die graf gepryk.

Maar wat van oupa en ouma De Villiers se grafte? Dis ‘n lang maar interessante storie. Oupa Pieter Johannes Viljee het benewens boerdery ook transport gery vir ‘n inkomste. Met die uitbreek van die ABO het die gesin op  die plaas Rietspruit gebly. Oupa het as jongman sy regterhand in ‘n geweerongeluk sodanig beseer dat dit vir hom stremming veroorsaak het. Een van die gevolge was dat hy nie gemaklik was met die hantering van ‘n geweer nie. Gevolglik het hy met die mobilisering van die ZAR magte homself nie vir militêre diens beskikbaar gestel nie maar na die beste van sy vermoë sy boerdery op Rietspruit voortgesit.

In Junie 1901 het die gesin se omstandighede op die plaas onhoudbaar geraak en oupa het besluit om met sy gesin en besittings in die rigting van Swaziland te trek en daar veiligheid op te soek. Op 6 Junie 1901 is die gesin op die plaas Zwartwater, distrik Piet Retief deur ‘n afdeling Rimington Scouts oorval. In die kort geveg wat gevolg het, is oupa kritiek gewond en het dieselfde dag gesterf. Die Scouts het daarop aangedring dat die res van die gesin dadelik na die naaste konsentrasiekamp verskuif moet word. Daar was gevolglik nie tyd vir die behoorlike begrafnis van oupa se lyk nie. ‘n Graf is in die beeskraal op die plaas gegrawe en oupa is daar ter ruste gelê. Na die einde van die ABO, om presies te wees in 1907, het oupa se seun Johannes Albertus wat toe ‘n sakeman op Ermelo was, die oorskot van sy pa laat opgrawe en in die ou begraafplaas op Ermelo langs sy dogtertjie wat in 1895 aan witseerkeel oorlede is, herbegrawe.

Ouma Viljee het na haar ontslag uit die Volksrus konsentrasiekamp met haar minderjarige dogter (skrywer se ma) by haar seun Johannes Albertus versorging gekry. Soos genoem was hy ‘n sakeman op Ermelo. Sy besigheid het gefloreer en hy het vir hom die plaas Blairmore wat oos van Ermelo geleë is, aangekoop.

In 1925 is Johanna Catharina de Villiers aldaar oorlede en op die plaas begrawe. Terwyl Johannes Albertus op die plaas geboer het,  is die graf in ‘n goeie toestand gehou. Hy is in 1955 oorlede waarna die plaas in vreembe hande beland het. Dit het tot die onvermydelike verwaarlosing van die graf gelei.

(Word vervolg)

  • Hits: 5